Jesus verskyn in Suid-Afrika

Jesus blending into a church congregation

Op ń dag het Jesus verskyn aan sy dissipels in Suid-Afrika. Hulle was bymekaar in een van die drie susterskerke se erediens. Na die orrel-gesang verby is, het Hy meteens vir hulle gesê: “Kom hiervandaan weg saam met My na ń plek wat ek julle sal aanwys, want die leiers hier verdra sondaars in hulle plekke van aanbidding”. Hy het hulle toe geneem na ń nuwe geloofsentrum waar verdraagsame mense ekskommunikeer word van die plekke van aanbidding. Daar het Hy die geloofsentrum se klanksisteem, beligting, hoë-gehalte aanbiddingsmusiek en die effektiewe tiende-invordering sisteem, goed gevind.

Die volgende dag het Hy saam Sy dissipels na die Geloftedag feesvieringe by die Voortrekker Monument vertrek. Dit was die 32ste jaar van demokrasie in Suid-Afrika. Alvorens het Jesus regdeur Suid-Afrika gereis en dit goed gevind dat vanaf hulle aankoms in Afrika, hierdie volk eenparig en met ywer Sy voorskrifte in die land uitgeleef het. Hy het dus ń sagte plekkie vir hulle gehad. Die leiers van hierdie volk wou egter weet hoe hulle met die ander volke moes maak wat anders is as hulle is, hulle besteel en vermoor. Hy het gesê hulle moet maak soos daar geskrywe staan: “Julle moet julle vriende liefhê en julle vyande haat”.

Daar kom toe kerkleiers na Hom en vra: “Rabbi, moet ons belasting betaal en gehoorsaam wees aan die wette van die regering, want ons regering is dan vol korrupsie?” Hy sê toe: “Julle hoef nie aan die regering belasting te betaal nie, gee slegs aan God wat Hom toekom”.

Jesus het homself gereeld gaan isoleer om tyd met Sy Vader te spandeer en om op te vang met Sy Facebook account. Onder sy volgelinge was daar diegene wat Hom onlangs begin volg het en die wat Hom reeds van kleins af saam hulle ouers begin volg het. Toe Hy sien dat daar rusie is onder die volgelinge wat onlangs gedoop is en die wat reeds as babas gedoop is, het Hy die volgende kommentaar getik: “Iemand wat deur sy ouers as baba gedoop is, kan nie My volgeling wees nie.” Baie van Sy volgeling het Hom toe daar unfollow.

Die volgende dag het Hy saam met Sy dissipels gegaan na hulle nuwe geloofsentrum wat intussen ń koffiewinkel bygekry het. Op pad soontoe kom daar ń raadslid uit een van die Afrika-stamme na Hom om die armoede en moorde onder sy volk se mense onder Sy aandag te bring. Sy dissipels het egter aan hom verduidelik dat Jesus ongelukkig slegs die belange van een volk op ń slag kan dra.

Daarna kom die kerkleiers na Hom met ń man wat homoseksualiteit beoefen en sê: “Die wet van Moses het ons beveel om mense wat homoseksualiteit beoefen te stenig. Maar U, wat sê U?” Hy sê toe: “Stenig hom”. Jesus het toe gemerk dat die voetoorgang geverf was met al die kleure van die reënboog. Hy het Sy dissipels beveel om dit die volgende nag in die geheim met aanhalings uit die Skrif te gaan toeverf.

Toe hulle by die deur van die kerksentrum aankom, was daar ń ryk, jong man wat vir Hom gevra het wat hy moet doen om die ewige lewe te beërwe. Jesus sê toe vir Hom: “Wanneer jy televisie kyk, spits jou toe op die godsdienstige programme”. Hy het toe bewoë weg gegaan, want hy was, onder andere, in die middel van die Vikings reeks op Netflix. Jesus draai toe om en sê vir die mense daar: “Kyk, daar is allerlei TV- en radioprogramme wat christelik is; TBN is maar een voorbeeld. As julle nie getrou kan bly in die klein dinge nie, hoe sal julle Vader julle kan vertrou met die verhewe dinge?” Die ryk, jong man het ook lang hare, ń neusring en ń tattoe van sy dogter op sy voorarm gehad. Jesus het voortgegaan: “Verder vind julle Vader in die hemel dit goed wanneer julle wandel in Sy beeld. Mans kan hulle kreatiwiteit op verskeie maniere uitleef, maar liefs nie deur lang hare, versiersels in die vel of tattoeërmerke nie”.

Binne die nuwe kerksentrum het hy op die verhoog geklim. Nadat Hy die kameraman gevra het om op Hom in te zoom, het hy gespreek: “Ek wil bylas by julle pastoor se preek van laasweek en dit beaam- julle ontvang nie, want julle vra nie, en as julle vra, glo julle nie. As Ek ń nuwe kar vir iemand wil gee, wie sal My keer om ń Ferrari te gee? Toets My en kyk of Ek nie die begeertes van julle harte vir julle sal gee nie”. Verder het Hy gesê: “Pasop dat julle Vader julle nie vang medelye betoon teenoor die leiding van Palestyne nie. Julle moet kant kies en nie draadsitters wees nie. Kies aan watter kant julle is met die oorlog in die midde-ooste”.

Toe Jesus amper klaar gepraat het, het Hy gevra dat die musiekspan moet solank saggies musiek begin speel. Hy het gevra dat almal hulle oë sal toemaak terwyl die wat hulle lewe opnuut aan Hom wil wy, hulle hande stilweg kan opsteek en Hy vir hulle kan bid. Nadat menigte mense hulle hande opgesteek het, het Hy hulle tog gevra om op te staan en na vore te kom. Dit het Hy gedoen om die egtheid van hulle harte te toets. Hy was egter hewig ontsteld, omdat Hy bewus was van twee mense in die gehoor wat te skaam was om op te staan en na vore te kom. Die ewige lewe is nie beskore vir die met sosiale angs nie.

Na die aand se verrigtinge verby is, het Hy afgesluit en voorgelees uit die geskrifte: “So lief het God sommiges gehad, dat Hy Sy enigste seun gestuur het…”

🌧

🚶🏼‍♂️

PS: Die bogenoemde blog is ń satire.

Vergelyk:

Published by Reënloper

Songwriter | Health Care Worker | Wanna-be Adventurer | Blogger

Leave a Reply