Op 20 September 2026 het ek een van die grootste geskenke van my lewe ontvang: my eerste kind is gebore en dit is vreemd hoe lief mens kan wees vir ń ander mens.
Soos enige ouer het ons drome vir ons kind en, in opsomming, droom ons die volgende vir hom: dat hy nie te lank sal soek voor hy Jesus vind nie. Ons het iets van ons droom vir hom in sy naam gesit. Ons het hom Christiaan genoem – dit beteken: volgeling van Jesus.
Dit het my laat verder dink aan wat ek oor die jare geleer het oor wat dit beteken om ń volgeling van Jesus te wees:
Hulle is nie noodwendig die skrifgeleerdes nie, die leiers in die land, skool en kerk nie. Hulle het nie leiersposisies nodig om leiers te wees nie.
Hulle het nie noodwendig ń groot klomp aanhangers nie, hulle maak nie gewoonlik baie geraas nie. Hulle lyk nie op die oog af sommer suksesvol nie. Hulle loop nie rond en oordeel almal nie.
Hulle het gesonde selfbeelde. Hulle is die mense wat die wêreld beter maak vir almal op die een of ander manier. Hulle is nederig en stil.
Mense dink soms hulle is vreemd, ‘common’ of besete. Hulle boodskap is nie populêr nie, maar hulle weier om die massas te volg. Hulle word beledig op sosiale media platforms soos Facebook en X wanneer hulle vrede wil bewerkstellig.
Hulle word gewoonlik vermoor deur beide konings en priesters. Hulle word gehaat deur ‘linkses’, sowel as, ‘regses’, want hulle wandel die pad wat min mense raaksien. Hulle loop kaal bolyf, leef van springkane en heuning, en die wêreld hou gewoonlik nie van hulle voorkoms nie. Hulle woon in die woestyn en hulle koppe word afgesny.
Hulle word oorboord gegooi en lê in gutters. Hulle hang aan kruise in die strate, en brand op brandstapels.
Hulle is nie skrifgeleerdes nie, maar hulle ken die skrif goed.
Hulle is die skape tussen wolwe, so opreg soos duiwe, en so skerp soos slange.
In kort, hulle bly naby Jesus.
Dit klink lastig, maar almal in die wêreld dra die een of ander las. Ten minste kan ons kies watter las ons wil dra.
🌧️
🚶🏼

