Grond: Gee jy of neem jy?

Twee rye spore vorm in die klam grond as God saam Adam die welige tuin instap. Hy is besig om Hom al die lappies grond te wys wat hy bewerk het vir die nuwe landerye wat hy beplan. Dis die land van Eden, die stukkie grond wat God afgemerk het waarop die perfekte lewe kon afspeel – in liefdevolle verhouding met Sy skepping.

Maar dit was nie lank voor Adam sy eie begeertes volg en weg dwaal van God nie. Hy begeer mag en verloor die grond. God gaan soek na Sy wandel maat en vind hom in ń toestand van sonde en sit hom dan self van die grond af om ander grond te gaan bewerk. Dit was meer as Adam se land gewees, dit is waar hy in vervulling gelewe het – iets waarna hy altyd sou verlang.

Die mens skraap vir homself koninkryke bymekaar en hou aan sy eie begeertes volg. Sy begeerte na mag dryf hom al verder van God af. Maar God probeer elke keer iets nuuts om oor te begin met ons. Eers die sondvloed, dan Sodom en Gomorra. Uiteindelik word Abraham geroep om sy grond te verlaat en as vlugtelinge word ń volk gebore uit hom. Hy lei die volk uit slawerny en gee hulle die wet. Die wet wys dat Eden nog in God se hart klop. Tussen ryke waar selfsug en losbandigheid heers en kinders geoffer word, leer Hy mense van respek, eerbied; omsien na weeskinders en weduwees; en vertroue op Hom alleen…daarom dat al die volke naderhand gevul is met eerbied vir die God van Israel. Vir lank besit Israel geen grond nie, maar trek ander na God toe.

Mettertyd dwaal hulle van die wet en hou hul hulself besig met hul eie begeertes en die Israeliete word ballinge – tot die tyd van die Messias. In ń tyd van Godsdiens, offers en rituele stuur God sy Seun as perfekte offer om die weg te baan na Hom. Die Seun van die mens kom bewandel Sy eiendom, maar self besit Hy niks nie. Steeds trek Hy baie mense na God toe. Eden klop steeds in God se hart – ‘kom wandel saam My’. Hy is die Weg terug na God toe en Hy leer Sy dissipels saam Hom wandel.

Na Hy weg is word Sy dissipels deur vervolging verstrooi oor die aarde, en as vlugtelinge bring hulle die boodskap van versoening waar ook al hulle beland. Hulle verkondig die Weg na God – sodat mense weer kan wandel saam met God.

Vir eeue gee sendelinge hulle huise, hulle grond op om na vreemde lande te gaan met dieselfde doel – om grond te gee, die grond van Eden, waarop mense kan wandel, saam met God – dis die boodskap van versoening. Te danke hieraan pluk baie mense die vrugte van ń nuwe lewe, in Suid Afrika ook, soos hulle saam God wandel. Ongelukkig was daar ook die mense wat na ander lande gegaan het met selfsugtige begeertes – om grond te neem, by ander, en ryk te word uit hulle hulpbronne. Hulle verrig baie skade en daarom die ongelykheid in die land, die seer.

So het jy grond? Wandel jy gereeld? Deel jy dit met ander? Gee jy of neem jy? Ek is van mening dat die paradys nie die grond is wat ons ontvang nie, maar die Persoon saam wie ons wandel. En ek kan myself nie indink hoe ons saam God kan wandel sonder om meer respek vir almal om ons te hê en hulle ook meer spasie te gun nie, want grond is aan ons almal geleen.

Let op: God gebruik Sy vlugteling volk, Sy Seun wat nie ń plek het om Sy kop neer te lê nie, Sy vervolgde disspels en sendelinge om Sy grond vir ons terug te gee, sodat ons saam Hom kan wandel – want Eden klop steeds in Sy hart.

 

Published by Reënloper

Songwriter | Health Care Worker | Wanna-be Adventurer | Blogger

2 thoughts on “Grond: Gee jy of neem jy?

  1. Mooi gesê!…en ons stap saam met Jesus op die grond van Sy Koninkryks realm..nou en altyd!

  2. Wyse woorde, goeie insig… denke van mense moet verander en wie wil nie weer saam Jesus in die paradys wandel met totale vervulling nie…

Leave a Reply

Discover more from Reënloper

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading